Canolafokus 8 September 2000
Artikel indeks
Swartland langtermyn-wisselboustelsel proef
- Inleiding
- 1996 produksieseisoen
- Figuur 1: Gemiddelde opbrengs vir 1996 gewasse
- Figuur 2: Bruto marge resultate vir 1996 gewasse
- 1997 produksieseisoen
- Figuur 3: Bruto marge resultate vir 1997 stelsels
- 1998 produksieseisoen
- Figuur 4: Bruto marge resultate vir 1998 stelsels
- Figuur 5: Koringopbrengs vir 1998 stelsels
- 1999 produksieseisoen
- Figuur 6: Bruto marge resultate vir 1999 stelsels
- Winsgewende canola- en lupienverbouing
- Gevolgtrekking
Voordele van canola in 'n wisselboustelsel
Die Swartland langtermyn-wisselboustelsel-proef ekonomiese voordele van canola en lupiene in kontantgewas-wisselboustelsels
Inleiding
Ten einde die produksiedinamika van wisselboustelsels te evalueer, word 'n ondersoek sedert 1996 op die Langgewens proefplaas van die Departement van Landbou: Wes-Kaap uitgevoer. Een van die doelwitte is om wisselboustelsels vir die Swartland te identifiseer wat ekonomiese, aanvaarbare grondgebruikspatrone en boerderypraktyke sal bevorder, sodat die winsgewendheid van wintergraanproduksie verhoog kan word. Vir verskillende gewasse in die proefbehandelings is gedetailleerde vertakkingbegrotings (Combud) opgestel en opsommende resulate word verskaf waaruit afleidings gemaak word.
1996 produksieseisoen
Gunstige weersomstandighede vir kleingraanverbouing was gedurende die produksieseisoen ondervind. Volgens Figuur 1 was die gemiddelde opbrengste vir koring, canola en lupiene onderskeidelik 2.18, 1.83 en 1.46 ton per hektaar, wat goed vergelyk met langtermyn-opbrengssyfers. Die produksieresultate behaal kon moontlik aan die tipe grondvoorbereidings (alle gronde is gerif en voor in 1995) toegeskryf word en omdat dit die vestigingsjaar van die stelselproef was.
Behalwe vir koring, was aanvaarbare bruto produksiewaarde (BPW) resultate vir canola en lupiene behaal (sien Figuur 2). Die graad van koring was onbevredigend en wisselvallig (byvoorbeeld vanaf UT1 R510/ton tot BP2 R880/ton) en die bruto marge was laer as verwag. Ander ekonomiese afleidings word nie vanuit die resultate gemaak nie.
1997 produksieseisoen
Koringopbrengs het tussen 0.87 en 2.26 ton per hektaar gewissel, wat laer neig as die langtermyn gemiddelde. Produksieresultate was nadelig beïnvloed deurdat onvoldoende reën na einde Augustus voorgekom het. Waar koring na koring verbou was, was daar groot variasies vir koringgraad en -opbrengs. Op 50% van die kampe was 'n FG of UTG2-graad (R334/ton) behaal, terwyl 'n BP2-graad (R596/ton) op die ander kampe behaal was. Koringopbrengs het tussen 0.87 en 1.97 ton per hektaar gewissel. Die toedeelbare veranderlike koste was die hoogste van drie verskillende stelsels (sien Figuur 3).
In die koring na canola-stelsel was die variasies vir koringgraad en -opbrengs kleiner. Op 17% van die kampe was 'n UTG2-graad en op 83% 'n BP2- en BP1-graad (R623/ton) behaal. Koringopbrengs het tussen 1.93 en 2.21 ton per hektaar gewissel. Die toedeelbare veranderlike koste was laer as by die koringmonokultuurstelsel.
Waar koring na lupiene verbou was, het opbrengste gewissel van 1.65 ton tot 2.26 ton per hektaar en graad vanaf UTG2 tot BP1. Die toedeelbare veranderlike koste was die laagste van drie verskillende stelsels (sien Figuur 3).
Volgens Figuur 3 neig toedeelbare veranderlike koste by koring na lupiene laer as by koring na canola of koring. Die bruto marge vir koring na canola neig hoër as vir koring na lupiene, wat hoër was as die bruto marge vir koring na koring. Opbrengs vir koring na canola of lupiene was, ten spyte van die abnormale produksiejaar, vergelykbaar met die langtemyn gemiddelde opbrengsnorm en beter as vir koring na koring. Waar koring na canola verbou was, was die graad van koring minder wisselvallig as vir koring na lupiene of koring.
Figuur 3 toon duidelik dat winsgewendheid verhoog indien canola en lupiene in wisselbou met koring verbou word, omdat 'n hoër koringopbrengs en beter graad (en gevolglik prys) behaal is. Omdat toedeelbare veranderlike koste vir koring ook verminder het na canola of lupiene verbou is, hou dit addisionele ekonomiese voordele in en word boerderyrisiko verminder.
1998 produksieseisoen
Koringopbrengs het tussen 1.76 en 3.45 ton per hektaar gewissel. Reën tydens oestyd het opbrengs en graad nadelig geraak en winsgewendheid beinvloed. Waar na die reën gestroop was, was die opbrengs laer en graad swak. Graad van koring het baie varieer, veral by die koringmonokultuurstelsel. BPW was laag waar 'n swak graad behaal was.
Volgens Figuur 4 neig die toedeelbare veranderlike koste by koring na koring hoër as by koring na canola of lupiene, omdat bemesting-, onkruidbeheer- en masjieneriekoste hoër was. Koring na lupiene se toedeelbare veranderlike koste neig laer as by koring na canola vanweë laer bemestingkoste, terwyl die ander toedeelbare veranderlike koste-items dieselfde was. Bemesting het 'n wesenlike invloed op die toedeelbare veranderlike koste van koringproduksie gehad. Die swakste bruto marge resultate het realiseer waar die meeste bemesting toegedien was en toedeelbare veranderlike koste dus die hoogste was.
Die koringopbrengs by koring na lupiene was beter as by koring na canola en koring na koring (sien Figuur 5). Hierdie tendens was verkry ten spyte van die swak produksieresultate van canola en lupiene in die 1997 produksieseisoen. Die invloed wat 'n lae opbrengs op die produksieresultate van opvolggewasse het, behoort oor tyd nagevors te word.
By die Koring-Lupien-Koring-stelsel (KLK) was koringopbrengs beter as by die Lupien-Canola-Koring-stelsel (LCK), Canola-Koring-Koring-stelsel(CKK), Koring-Canola-Koring-stelsel (KCK) en Koring-Koring-Koring-stelsel (KKK). Soos koringopbrengs (sien Figuur 5) en gevolglik BPW tussen die stelsels afgeneem het, het toedeelbare veranderlike koste toegeneem (sien Figuur 4). Dieselfde tendens was ook in die 1997 produksieseisoen ondervind. Indien lupiene en/of canola op enige stadium in die wisselboustelsel ingesluit word, word ekonomiese voordele verkry indien koring as opvolggewas verbou word. Dit verhoog koring se opbrengs, het 'n positiewe invloed op koringgraad en dra tot 'n verlaging in toedeelbare veranderlike koste by.
Die 1998-produksieseisoen het bewys dat bemestingkoste a.g.v. die toedieningspeile daarvan 'n invloed op die winsgewende verbouing van gewasse in 'n wisselboustelsel het. Gedetailleerde grondontledings speel hier 'n onontbeerlike rol ten einde die beste moontlike bemestingaanbevelings te maak. Die optimale toediening van bemesting vir gewasse is belangrik om die inherente voordele wat wisselbou bied, in 'n winsgewende alternatief te omskep.
1999 produksieseisoen
Gunstige klimaatstoestande vir die verbouing van koring was gedurende die produksieseisoen ondervind. Die koringopbrengs het vanaf 2.59 tot 3.82 ton per hektaar gewissel, met die opbrengs by koring na koring 3.16 ton per hektaar. Indien dit vergelyk word met die opbrengs van koring na canola (3.16 t/ha) en koring na lupiene (3.70 t/ha), dan het koring na koring 'n gemiddelde opbrengs. In die 1997- en 1998-produksieseisoen het die koringmonokultuurstelsels 'n laer opbrengs as die ander stelsels gerealiseer en die graad behaal was ook baie meer wisselvallig.
Volgens Figuur 6 het die BPW tussen stelsels nie veel verskil nie. Die rede hiervoor was dat koringopbrengs en graad tussen die stelsels nie baie van mekaar verskil het nie. Alhoewel die toedeelbare veranderlike koste van die verskillende stelsels ook nie baie verskil nie, was dit by koring na lupiene die laagste en by koring na koring die hoogste. Die verskille wat bestaan was vir swambeheer, omdat die Koring-Koring-Koring-Koring-stelsel (KKKK) vir oogvlek behandel is en geen siekte- of swambeheer by die ander stelsels toegepas was nie. By koring na lupiene en een kamp by koring na canola was minder kopbemesting gegee. Op een kamp in die KKKK-stelsel was ook minder onkruidbeheer toegepas.
Vir die derde agtereenvolgende jaar het stelsels waar lupiene en canola in die wisselboustelsel ingesluit was, beter bruto marge resultate vir koring getoon as wat die geval was by die jaarlikse, opeenvolgende verbouing van koring. Ongeag van die tipe produksiejaar, blyk dit dat kleingraanverbouing in die Swartland meer winsgewend kan wees indien 'n gewas soos canola en lupiene in wisselbou met koring verbou word. Wisselbou bevorder boerderydiversifikasie, verbeter produksieresultate en verminder toedeelbare veranderlike koste, wat ekonomiese voordele en risikoverskansing vir boerdery inhou, maar dan moet alternatiewe gewasse winsgewend verbou word.
Winsgewende canola- en lupienverbouing
Vir die suksesvolle verbouing van canola en lupiene moet die regte bestuurspraktyke toegepas word. Indien daar byvoorbeeld nie op die regte tyd gestroop word nie, kan oesverliese voorkom. Vir 'n gewas soos canola is daar byvoorbeeld nou droogfasiliteite beskikbaar en daarom kan dit oorweeg word om te stroop voordat die gewenste vogpersentasie bereik word en die droogkoste aan te gaan in plaas van 'n totale misoes. Produksie word onder andere gestimuleer deur produkpryse en 'n premie behoort betaal te word vir hoë olie- en/of proteïeninhoud van produkte.
Gevolgtrekking
Die werklike proefresultate wat behaal is, is ekonomies ontleed. Wisselboustelsels waar canola en lupiene ingesluit word, verhoog die winsgewendheid van koringproduksie. Dit dra by tot boerderydiversifikasie, verminder boerderyrisiko en verbeter boerderywinsgewendheid. Sekere eise word aan bestuursvermoë gestel ten einde finansiele stabiliteit van boerdery te verhoog.
Hierdie projek word finansieël ondersteun deur Hoofdirektoraat Landbou: Wes-Kaap, Proteïennavorsingstrust en Graan SA: Wes-Kaap.
Enkele voordele van canola in 'n wisselboustelsel
- Gegewe goeie bestuurspraktyke is canola is 'n alternatiewe gewas met 'n hoë stabiele opbrengs en inkomste. Beter risiko verspreiding is moontlik.
- Verminder siektes, peste en plae van opvolgende graangewasse as gevolg van siektebreek effek wat vermindere insetkoste impliseer.
- Diep penwortelstelsel dien as biologiese ploeg en verbeter wortelindringing van opvolggewas en verbeter infiltrasie van reënval wat oppervlakerosie kan verbeter.
- Die wortelstelsel van canola het ook 'n bioberokings effek wat die voorkoms van grondgedraagde siektes verminder.
- Indien oesreste betyds in die grond ingewerk kan word, kan 'n groot hoeveelheid voedingstowwe na die grond gehersirkuleer word.
- Beheer van probleemonkruide soos predikantsluis en weerstandbiedende raaigras is moontlik in die canolajaar.
- Beter geleentheid vir 'n geïntegreerde onkruidbeheerstrategie om weerstand van onkruidspesies teen middels te bekamp.
- Verhoogde opbrengste van so hoog as 25% in die daaropvolgende koringopbrengs, is al aangeteken asook 'n verbetering in die kwaliteit (graad) van koring.
- Dit pas goed in by die bestaande boerderystelsels, aangesien konvensionele graantoerusting gebruik word en plant- en oesaksies uit ritme met koring plaasvind.
- Weidingswaarde van canolastoppel is, volgens nuutse navorsingsbevindinge, dieselfde as koringstoppel. Op-die-plaas-verbruik van canola in die volvet vorm is 'n nuttige, onverwagte verwikkeling.
- Winsmarge vergelyk baie gunstig met koring.
- Markte en hanteringsfasiliteite het oor die laaste paar seisoen aansienlik verbeter soos die gewas erken word as onontbeerlike deel van 'n wisselboustelsel.
Prysvooruitskatting en internasionale markinligting
Prysbepaling
Die prys van ingevoerde sojaboon-oliekoek (47% proteïen) uit die VSA beloop tans R1 560 per ton. Volgens die waarde van canola teenoor sojaboon-oliekoek sal die waarde van volvet canola as volg wees:
Pluimvee | (94% van waarde van 47% sojaboon-oliekoek) | R1 466 |
Varke | (100% van waarde van 47% sojaboon-oliekoek) | R1 560 |
Suiwel | (58% van waarde van 47% sojaboon-oliekoek) | R905 |
Die waarde van canola-oliekoek is as volg:
Pluimvee | (53% van waarde van 47% sojaboon-oliekoek) | R1 827 |
Varke | (65% van waarde van 47% sojaboon-oliekoek) | R1 014 |
Suiwel | (60% van waarde van 47% sojaboon-oliekoek) | R936 |
'n Rekord sojaboon oes word in die VSA verwag terwyl daar voorspel word dat die internasionale canola – sowel as sonneblomoeste laer sal wees.
Voorsaaikontrakte
Verskeie kontrakte is plaaslik beskikbaar teen 'n minimum prys van R1 200 per ton.
Enquiries
Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Private Bag, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. piet.lombard@westerncape.gov.za
Editors
PJA Lombard J Bruwer Franco le RouxSponsored by the Protein Research Foundation