OPDT   OIL & PROTEIN SEEDS DEVELOPMENT TRUST
OAC   OILSEEDS ADVISORY COMMITTEE

OPDT
OIL & PROTEIN SEEDS DEVELOPMENT TRUST

OAC
OILSEEDS ADVISORY COMMITTEE


Notule

Sonneblom- en Sojaboonforum (SSF)
gehou op 17 November 2006 om 10:00 by die kantore van die Oliesadebedryf, Rivonia

  1. Opening

    Mnr Hawkins open die vergadering met gebed.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer heet almal hartlik welkom en in besonder vir mnr Eugene du Preez van die National Crops Statistics Consortium (NCSC) en mnr Pietman Botha van Graan SA.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Mnr FAS Potgieter Graan SA
    Mnr NJ Hawkins Graan SA
    Mnr GJ Pretorius Graan SA
    Dr M Griessel PNS
    Mnr DJ Kok GSI
    Mnr GD de Bruin NWK Beperk
    Mej M Scheepers Departement van Landbou
    Mev M de Jager SAGIS
    Mev L Moolman NLBR
    Mnr G Keun OPOT
    Mnr E du Preez NCSC
    Dr H du Plessis LNR-IGG
    Dr A Nel LNR-IGG
    Mnr P Botha GSA
    Mnr PJ van Heerden PPECB
    Mnr N Fouché Sekretariaat

    Verskonings

    Mnr PG Louw Graan Silo Industrie
    Mnr B Prinsloo Oliesadepersers
    Mev AG Enslin SAGIS
    Mev R Beukes Departement van Landbou
    Mnr S Oberholtzer OVK
    Mnr B Ntsimane Graan SA
    Mnr Sakkie van Zyl Graan SA
    Mnr W Loubser SANSOR
    Dr J de Kock PNS
    Mnr N Wegner PPECB
  4. Personalia

    Mnr Gert Pretorius word geluk gewens met sy herverkiesing as Voorsitter van OPOT.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met geen toevoeging van besprekingspunte nie.

  6. Goedkeuring van notule

    1. Goedkeuring van die notule van die vergadering van die Sonneblom- en Sojaboon­forum gehou op 2 Augustus 2006

      Besluit:

      1. Dat die notule van die vergadering van die Sonneblom- en Sojaboonforum gehou op 2 Augustus 2006 goedgekeur word.
  7. Sake voortspruitend

    1. Bemarkingsaspekte

      1. Oesskattings

        Mnr Du Preez doen 'n visuele aanbieding van die NCSC se werkswyses en die nuutste tegnologie wat gebruik word. Hy meld dat die NCSC se inligting grootliks afhanklik is van die betroubaarheid van die data wat deur produsente verskaf word en dat slegs sekere data onafhanklik van produsente verkry word, soos van veldopnames. Hy noem dat ongeveer 6,5 miljoen ha in Suid-Afrika tans gedigitaliseer is, ondersteun deur nagenoeg 2 000 fotobeelde. Die NCSC het 'n projekvoorlegging by die Mielietrust ingehandig, vir die digitering van addisionele gebiede. Die oogmerk is om tot 11 miljoen ha te digiteer.

        Die sisteem waarvan gebruik gemaak word, heet die Producer Independent Crop Estimate System (PICES). Hierdie sisteem raak al hoe meer relevant namate produsente weier om inligting te verskaf. Die NCSC het 'n ooreenkoms met die Regering om "Landsat"- en "SPOT"-beelde te mag gebruik. Die laaste drie seisoene se beelde word gebruik om digitering te doen.

        Mej Scheepers sê dat inligting tot die Oesskattingskomitee se beskikking daarop dui dat sonneblom- en sojaboonaanplantings ten opsigte van die 2006/7-plantseisoen, onderskeidelik 15% tot 20% en 10% tot 15% minder sal wees as die aanplantings in die 2005/6-plantseisoen. In 2005/6 was die aanplantings vir sonneblom en sojabone onderskeidelik 472 480 ha en 240 570 ha. Sy meld dat hierdie inligting gegrond is op vraelyste deur produsente voltooi asook opnames wat deur die NCSC gedoen is.

      2. SAGIS

        Mej De Jager meld dat SAGIS 'n aansoek by die Minister ingedien het vir 'n wysiging in die regulasies ten einde die verwerking van die onderskeie kommoditeite na bio-brandstof, te akkommodeer.

        Ten opsigte van die sojaboonvoorraad, sê die Voorsitter dat daar 'n verband tussen die "voorraad voorhande" en die oesgrootte is asook dat die relatiewe hoë voorraadsyfers nie noodwendig 'n aanduiding van beskikbaarheid is nie.

        Mnr De Bruin sê dat die tradisionele verbruik van sonneblom-olie afneem namate die perskapasiteit vir sonneblomsaad ingeboet word as gevolg van die uitbreiding in perskapasiteit vir sojabone. Hy sê, gegewe die wisselkoersverwagtinge oor die korttermyn, kan invoer-olies steeds sterk kompetisie bied vir plaaslike olies.

    2. Sojaboon- en sonneblomcultivarevaluasie komiteevergaderings

      Ten opsigte van sojabone sê Dr Du Plessis dat dit, ná die bedanking van die verantwoordelike personeellid by die LNR-IGG, tot haar kennis gekom het dat grondmonster-ontledings ongelukkig nie gedoen was nie. Die riglyne van die LNR-IGG se bemestingshandleiding is gevolg vir 'n gemiddelde opbrengs van 2 ton/ha vir sojabone. Sy sê dat saad vir die cultivarproewe beskikbaar gestel is tesame met bemesting-aanbevelings ten einde optimale toestande te skep.

      Die Voorsitter sê dat dit ongewens is om oorbemesting met veral stikstof te doen, aangesien stikstofbinding krities belangrik by sojabone is. Dr Nel sê dat die stikstoftoediening wat deur die handleiding aanbeveel word, nie stikstofbinding van sojabone sal inhibeer nie en ten doel het om enige fosfor- en kaliumtekorte voldoende aan te vul om 'n opbrengs van 2 ton/ha te behaal.

      Dr Du Plessis sê dit is voorheen besluit dat grondmonsters geneem moet word op die spesifieke lande waar die cultivarproewe geplant gaan word. Daar is egter gevalle waar lande wat aanvanklik geoormerk is, later nie meer vir die proewe beskikbaar is nie.

      Die Voorsitter sê dat die grondstatus lank voor planttyd op 'n aanvaarbare standaard gebring moet word. Dr Nel sê ten opsigte van sonneblomproewe wat op proefplase geplant word, is die grondstatus bekend en dat resultate van grondmonsters slegs bevestig wat reeds aan die LNR-IGG bekend is. Dr Nel sê in gevalle waar die status van die grond onbekend is, word bemesting egter steeds gedoen vir kompensasie van moontlike tekorte aan fosfor en kalium, met die doel om ten minste 2 ton/ha te behaal. Verder is dit meestal die geval, dat produsente-medewerkers deeglike kennis van die grondstatus het. Hy sê dat die kans vir voedingsgebrek van grond, dus baie skraal is.

      Dr Griessel beklemtoon die belangrikheid daarvan dat daar vroegtydig, verkieslik net na oes, met produsente-medewerkers ooreengekom moet word ten opsigte van reëlings vir die volgende proef-aanplantings. Die Voorsitter sê dat hy en Dr De Kock binnekort met Dr Nel in gesprek sal tree om hierdie aangeleentheid te bespreek. Dr Du Plessis meld dat Mnr Jannie Erasmus wat onlangs op 'n kontrakbasis by die LNR-IGG diens aanvaar het, getaak is om cultivarproewe aan te plant en na grondbemonstering en grondontledings om te sien.

      Dr Nel meld dat daar 20 sonneblom-cultivarproewe beplan word, met 'n totaal van ongeveer 20 cultivars. Hy sê dat die gemiddelde leeftyd van 'n cultivar ongeveer 3 tot 4 jaar is.

    3. Internasionale kompetisie in die oliemark

      Tydens die vorige vergadering is gemeld dat 'n tweede wetenskaplike artikel aangaande die eienskappe van sonneblomolie en palmolie sou verskyn en dat 'n populêre artikel nog nie gepubliseer was nie. Mnr Keun sê dat die tweede wetenskaplike artikel reeds gepubliseer is en wel op die webblad van SAAFOST en dat dr G van der Merwe die tweede wetenskaplike artikel aan OPOT sal verskaf. Hy noem dat Dr Du Plessis tans sekere feite kontroleer voordat 'n populêre artikel wat deur Dr van Twisk geskryf is ook gereed sal wees vir publikasie.

    4. Voorlegging: Benutting en moontlike beter benutting van sonneblom-oliekoek

      Die Voorsitter reël dat die saak oorstaan. 'n Veevoedingkundige persoon sal genooi word om 'n aanbieding oor hierdie aspek, by 'n volgende geleentheid te doen.

      Besluit:

      1. Dat 'n veevoedingkundige persoon genooi sal word om 'n aanbieding oor die benutting van sonneblom-oliekoek, by 'n volgende Forumvergadering te doen.

        Dr Griessel
        Mnr Keun

    5. Sonneblombedryf

      Dr Nel rapporteer oor die Internasionale Sonneblom-vereniging se simposium wat hy en Mnr J Potgieter gedurende September 2006 in Italië bygewoon het. Dit was getiteld "First symposium on sunflower industrial uses". Onder andere noem hy dat navorsing gedoen word / is na die volgende gebruike vir sonneblomolie:

      • Sonneblom-olie as plaasvervanger vir mineraal-olie.
      • Sonneblom as insetmiddel vir die produksie van waterstof.
      • Sonneblom as 'n inset by die vervaardiging van chemiese middels.
      • Sonneblom as 'n grondstof vir latex en ander plastiese materiaal.
      • Die verandering van cultivars se vetsuursamestelling om die stabiliteit van olie as inset vir industriële gebruik, te verbeter. In Frankryk het die produksie van hierdie cultivars in die afgelope ses jaar aansienlik toegeneem.

      Dr Nel noem dat daar geen melding gemaak is aangaande alternatiewe gebruike van oliekoek nie. Die Voorsitter reël dat mnr Keun die titels van die referate van Dr Nel bekom om aan die Forumlede beskikbaar te stel. Dr Nel sê dat die hoë-oliënsuurcultivar in verlede seisoen se proef 'n lae opbrengs gehad het en dat daar vanjaar twee sulke cultivars by die proef ingesluit is.

      Mnr Pretorius sê dat die uitdaging steeds is om produksie te verhoog. Hy sê Graan SA se werkgroep is van mening dat die probleme verbonde aan die aanwendingsmoontlikhede van sonneblom en sonneblom-oliekoek in die plaaslike mark aandag moet geniet. Navorsing na die afbreek van koolhidrate deur ensieme vir die toeganklikheid van oliekoek vir pluimvee, is 'n belowende faktor. Hy sê dat die Oliesade-Advieskomitee (OAK) ook groter erns behoort te maak met alternatiewe gebruike vir sonneblom.

      Mnr Hawkins sê dat sonneblom al-hoe meer op die basis van oliefraksie sal moet meeding. Die Voorsitter sê hoewel sonneblomolie met ander eetbare olies meeding, soja-olie hoofsaaklik deur die bio-brandstofmark opgeneem sal word. Mnr De Bruin sê die nismark wat daar tradisioneel vir die verbruik van sonneblom-olie bestaan het, het baie verklein, aangesien die verbruiker nie meer so 'n sterk voorkeur ten gunste van slegs sonneblomolie het nie.

      Mnr Pretorius sê dat die vraag derhalwe ontstaan, of sonneblomolie nie dalk generies gereklameer moet word nie. Hy sê dat die aanwending van sonneblom-oliekoek vir vetmesting dalk ook generies gereklameer behoort te word.

      Dr Griessel sê dat Afgri 'n tegniek gepatenteer het ten opsigte van die benutting van verbyvloei-proteïen by veral herkouers en dat die sukses van hierdie tegniek, 'n toename in die verbruik van sonneblom-oliekoek kan meebring. Dr Nel sê dat navorsing na die verlaging in veselinhoud ten opsigte van oliekoek en 'n verbetering in dopbaarheid van sonneblomsaad, nodig blyk te wees. Hy noem dat daar 'n groot variasie tussen cultivars, ten opsigte van dopbaarheid bestaan.

      Besluit:

      1. Dat mnr Keun die titels van referate wat tydens die "First symposium on sunflower industrial uses" gelewer is, van Dr Nel sal bekom en aan die Forumlede beskikbaar sal stel.

        Mnr Keun

    6. Strategiese plan vir graanbedryf

      Mnr Keun sê dat die omvang van die strategiese dokument dit onmoontlik gemaak het om die dokument by die sakelys in te sluit. Hy onderneem om dit elektronies beskikbaar te maak vir diegene wat daarin sou belangstel. Mnr Pretorius doen aan die hand dat aspekte van toepassing op sonneblom en sojabone uitgelig en aan die Forumlede beskikbaar gestel word. Mnr Hawkins sê dat genoemde strategiese plan 'n gevolg is van die President se Landbouplan. Hy noem dat daar van elke bedryf verwag word om 'n bedryfsplan in harmonie met die Strategiese plan vir die Graanbedryf op te stel.

      Mnr Hawkins sê dat Graan SA in die proses is om relevante aspekte van die strategiese plan met betrekking tot elk van die agt bedrywe waarvoor Graan SA verantwoordelik is, te identifiseer en met die hulp van taakspanne, sub-strategieë te skryf. Die Voorsitter versoek dat mnr Hawkins die Forum sal ken wanneer Graan SA op die punt staan om strategieë vir die sonneblom- en sojaboonbedrywe te skryf, sodat die Forum in oorleg met Graan SA kan bepaal tot watter mate die Forum vir Graan SA daarin behulpsaam kan wees. Mnr Kok onderneem om mnr Keun in te lig oor die strategiese aspekte waarop daar reeds in ander bedrywe gekonsentreer is.

      Besluit:

      1. Dat Mnr Hawkins die Forum sal ken wanneer Graan SA op die punt staan om strategieë vir die sonneblom- en sojaboonbedrywe te skryf (in ooreenstemming met die Strategiese plan vir die Graanbedryf), sodat die Forum in oorleg met Graan SA kan bepaal tot watter mate die Forum vir Graan SA daarin behulpsaam kan wees.

        Mnr Keun

      2. Dat Mnr Kok vir mnr Keun sal inlig oor die strategiese aspekte waarop daar reeds in ander bedrywe gekonsentreer is, ten opsigte van die Strategiese Plan vir die Graanbedryf.

        Mnr Kok

    7. Sojaboonroes

      Dr Griessel se verslag van 'n studietoer na Duitsland, Amerika en Kanada vanaf 12 Mei 2006 tot 10 Junie 2006, is vir kennisname by die sakelys ingebind. Dr Griessel het 'n mondelingse verslag tydens die vorige vergadering gelewer.

    8. Sojaboonroes

      Die vergadering neem kennis dat die notule van die vergadering van die Sojaboonroes-taakspan waarvoor Me P Kruger (LNR-IGG) verantwoordelik is, steeds uitstaande is. Kennis word ook geneem van die sojaboonroes-projekte, soos deur die onderskeie navorsingsinstansies hanteer word en waarvan sommiges afgehandel is. Mnr Keun sê dat die lys op datum gehou sal word namate projekte goedgekeur word.

    9. Radioprogram

      Die Voorsitter meld dat deelname aan die radioprogram gestaak is.

    10. SAFEX

      Na aanleiding van die Forum se besluit, is mnr Van Zyl van Graan SA versoek om inligting rakende die vervoerdifferensiaal, die grootte van die sojaboonkontrak en geregistreerde silo's skriftelik te kommunikeer. Mnr Van Zyl het 'n uittreksel van die SAFEX Advieskomitee-vergadering soos op 20 Julie 2006 aan die Forum beskikbaar gestel, waarvan 'n kopie by die sakelys ingebind is. 'n Lys van voorgestelde soja-leweringspunte vir die 2007-bemarkingseisoen is ook ingebind.

    11. Voedselhigiëne / -veiligheid

      Mnr Wegner het 'n protokol van die Departement van Landbou per e-pos beskikbaar gestel, wat veral op uitvoerders van graan betrekking het. Hy het genoem dat daar voortaan ten opsigte van alle besendings wat vir uitvoer bestem is, monsters vir "Maximum Residue Levels (MRL)" en Aflatoksien vir toetsing geneem sal word. Die protokol is onder die titel "Standards regarding food hygiene and food safety of regulated agricultural food products of plant origin intended for export - Government Notice No. 707 of 13 May 2005" gepubliseer.

  8. Navorsing

    1. Navorsingsprojekte 2007/08

      'n Lys van navorsingsprojekte soos deur OPOT befonds en in beginsel goedgekeur is, sowel as 'n lys van projekte wat gesamentlik deur OPOT en die PNS befonds word, is vir kennisname by die sakelys ingebind.

    2. Finale verslag: "Fungicide evaluation for the control of sclerotinia stem and head rot of sunflower"

      Die finale verslag van die LNR-IGG se projek M141/100 "Fungicide evaluation for the control of sclerotinia stem and head rot of sunflower" is by die sakelys ingebind. Die Voorsitter sê dat die Forumlede ingelig gehou sal word oor enige publikasies wat daaruit sal verskyn.

  9. Aanvullende sake

    1. Inligtingsdae

      Dr Du Plessis meld dat die LNR-IGG 'n inligtingsdag vir 28 Februarie 2007 beplan, waarmee dit ten doel gestel word om cultivaraanplantings ten opsigte van verskeie graan- en oliesade ten toon te stel.

      Mnr Keun maak melding van die NAMPO-Oesdag wat geskeduleer is om vanaf 15 tot 18 Mei 2007 in Bothaville plaas te vind.

    2. Aanstelling: President en Hub van LNR

      Kennis word geneem van die aanstelling van dr Shadrack Moephuli as nuwe President en Hoof Uitvoerende Beampte van die Landbounavorsingsraad. Die Voorsitter meld dat Mev Ina Wilken (SA Nasionale Verbruikersunie) op die nuwe LNR-Raad dien.

  10. Verkiesing van ampsdraers

    1. Verkiesing van voorsitter

      Mnr Keun noem dat die Voorsitter en Ondervoorsitter van die Forum, wat uit hoofde van hulle ampte op die Oliesade-Advieskomitee (OAK) dien, se termyne met een jaar oorvleuel – in ooreenstemming met die ampstermyne by die OAK. Aangesien die Voorsitter van die Forum se ampstermyn teen einde Februarie 2007 verstryk, vind die verkiesing van 'n persoon vir daardie amp nou plaas.

      Die vergadering herkies Mnr GJH Scholtemeijer eenparig in die amp van Voorsitter.

      Besluit:

      1. Dat Mnr GJH Scholtemeijer eenparig in die amp van Voorsitter herkies word.

        Mnr Keun

  11. Datums van vergaderings

    Die vergadering besluit om die volgende datums vir Forumvergaderings te reserveer:

    • 19 Februarie 2007
    • 17 April 2007
    • 1 Augustus 2007
    • 14 November 2007
  12. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die lede vir hul bydraes gedurende die afgelope jaar. Nadat hy almal 'n Geseënde Kersfees toegewens het, verdaag hy die vergadering om 13:15.